Blommeland
Liewe Heksie en die Rekenaar is 'n storie van die beminde Heksie se kennismaking met 'n rekenaar soos vertel deur Verna Vels. Daar is al die karakters van 'n goeie storie: Slimkop (wat alles weet van rekenaars), Liewe Heksie (die slagoffer wat niks weet van rekenaars nie) en Vickus Virus (die boef wat alles beduiwel).
Die storie het my baie laat dink aan my eie ervaring as toekomstige onderwyser en hoe ek myself (en ander) in een van die kategorie plaas - en watter beperkinge noodwendig daarmee saamgaan. Die blote idee dat digitale pedagogie hoogs tegnologies ontwikkelde middele is, is reeds die eerste wanopvatting. Saam met dit kom die weerstand wat dikwels by onderwysers teenwoordig is wat reeds jare lank op 'n bepaalde manier klasgee - kom ons noem dit die "swartbord-manier". Hulle voel dikwels bedreig deur nuwe ontwikkelings en wil - soos Liewe Heksie - enige instrument wat onbekend is met die spreekwoordelike besem bykom.
In teenstelling daarmee kry ons dikwels die Slimkoppe van die nuwe generasie onderwysers wat dink die wereld gaan verander word deur net genoeg You Tube videos te wys. Die boewe het ons ook altyd met ons, dikwels in die vorm van Eskom.
In beide gevalle word die hele metode en uiteindelike doel van onderwys misverstaan. Pedagogie is 'n pad wat die onderwyser saam met die leerder stap. En die pad is nie duidelik uitgele nie, maar opvoeders moet gedurig op die uitkyk wees vir merkers langs die pad. Hulpmiddels wat leerders en onderwysers kan help. Soms leer die onderwyser by die leerling vanuit sy ervaringsveld (wat dalk meer You Tube videos insluit) soms leer die leerder by die onderwyser vanuit sy ervarings (Liewe Hekse storieboeke!) en baie dikwels leer leerders by mekaar. Ons moenie bang wees om by mekaar te leer nie en ons moenie bedreig voel deur ander se kennis nie. As kennis al was wat saak gemaak het, sou ons leerders voor 'n rekenaar kon laat sit en voortgaan met onderrig aanlyn (online teaching).
Dis egter belangrik om die verskil te sien tussen kennis versamel en 'n vak bemeester. Pedagogie gaan in wese daaroor om iemand se hand te neem en hom/haar op 'n pad te neem sodat hy/sy veilig op 'n ander plek kan uitkom. Vir die leerder moet daardie plek 'n gevoel van bemagtiging wees. Die proses herhaal elke dag, week, jaar. Dit hou nooit op nie. Leerders moet voel dat hulle voortdurend nuwe ontdekkings maak en nie net nuwe kennis aanleer nie.
In 'n omgewing waar inligting vryelik beskikbaar is, moet mense ook geleer word om te onderskei tussen toegang tot inligting en die gebruik van inligting. Pedagogie kan gesien word as die lig wat geskyn word om sekere kennis in 'n spesifieke vakgebied uit te lig en dit van toepassing te maak op 'n gegewe situasie. Alle moontlike hulpmiddels moet dan ingespan word om die ervaring te versterk. In kort: pedagogie moet die wil om meer te leer bevorder.
Dan sal die son vir ons almal skyn in Blommeland en elders, en sal die storie'n gelukkige einde he.
No comments:
Post a Comment