Wednesday, 24 August 2016

Refleksie week 4

In hierdie baie kort week het ek nogmaals met ‘n groot realiteit kennis gemaak. Tydens die langnaweek het ek bietjie ekstra moeite gedoen met my lesplanne en het regtig goed gevoel oor die volledige lesplanne wat ek vir die onderskeie onderwysers kon voorlê en het uitgesien om hulle kommentaar te hoor.  Net om te sien hoe hulle dit onderteken - sonder om eers ‘n enkele woord daarvan te lees! Ek het wel agtergekom dat die ekstra voorbereiding my gehelp het om met groter gemak my lesse aan te bied en ek sou graag wil glo dat die leerders dit ook agtergekom het. Ek moes maar net weer tot die besef kom dat dit wat ek doen, doen ek vir die leerders en vir hulle voordeel alleen. So ek sal maar weer daardie ekstra moeite doen. Dit het my ook laat oplet hoeveel werk die onderwysers agter die skerms doen wat niemand noodwendig sien nie.

Die opregte vreugde wat daar onder meeste van die leerders was om mekaar (en van hulle onderwysers) weer na die langnaweek te sien, het my opgeval. Dit is regtig lekker om deel te wees van so ‘n gemoedelike omgewing. Dit laat mens weer tweekeer dink oor die effens verslapte dissipline waarvan ek voorheen gepraat het. Daar is seker maar ‘n fyn balans. Soos altyd met alles. 

Monday, 14 March 2016

Mindfulness

"Where ever you are, be there". Dit is die woorde waarmee een van my Wiskunde dosente destyds haar klas begin het (hoofsaaklik om 'n klomp oormoeg eerstejaars se gedagtes weg te kry van jool en te bepaal by Wiskunde). Dit was inderdaad van die beste raad wat ek ooit gekry het.  

Die vraag is so oud soos die mensdom self: hoekom is ons hier? Meer spesifiek, hoekom is ons in die NOS 2016 klas? Na twee maande se klasse is die antwoord vir my eenvoudig: dit gaan nie oor my nie, maar oor die leerder. Die Wiskunde wat ek so graag vir hulle wil leer, tesame met my persoonlike doelwitte, is skielik op die agtergrond. Dit beteken ongelukkig nie dat ek nou maar kan terugsit en die water oor die akker kan laat loop nie. Inteendeel,

My taak as onderwyser is terselfdertyd eenvoudig en geweldig kompleks. Ek moet 'n geleenteid skep vir leer. Eenvoudig? Ja. Maklik? Beslis nie.

  Dis baie maklik om die afgebakende teorie van meetkunde en trigonometrie te leer, maar veel moeiliker om waardes en norme oor te dra. Die enigste manier hoe kinders waardes en norme leer, is deur 'n voorbeeld te volg.  Skielik is die vergrootglas op my. Ek kan nie waardes leer wat ek nie self uitleef nie - binne en buite die klaskamer. Ek moet myself gedurig afvra of ek kalm, geduldig en georganiseerd voorkom en met liefde, begrip en selfbeheersing optree. Sien die leerders my as hardwerkend en doelgerig en terselfdertyd toeganklik en buigsaam? Al die eienskappe wat ek so graag as deel van my klaskamer kultuur wil sien, moet die leerders eerstehands ervaar. Leerders moet weet dat die werk wat jy insit voor 'n toets of eksamen belangriker is as die punt wat jy behaal na die tyd. Leerders moet weet dit is in orde om soms te erken "Ek weet nie". Hulle moet veilig voel as daar verandering plaasvind en weet dat dit 'n keuse is om iets te doen waarvoor jy nie noodwendig lus is nie. Dis ook die nodig dat leerders die waarde besef van dit wat hulle leer - basiese vaardighede soos lees, skryf en algoritme, maar ook van die sosiale en natuurwetenskappe.

Hierdie kultuur moet nie net tussen leerder en onderwyser bestaan nie, maar ook onderling tussen leerders. Dit moet tyd gegun word om te ontwikkel sodat elkeen self die positiewe uitwerking daarvan kan beleef. Alhoewel die hele proses nie geforseer kan word nie, moet die onderwyser tog doelbewus sekere aksies neem, soos om verjaarsdae te onthou, vordering te prys en bedag te wees op leerders se emosionele toestand. Klasaktiwiteite moet so gekies word dat dit nie onnodige ontwrigting veroorsaak nie. 'n Balans moet gehandhaaf word tussen spontane optrede, interessante aktiwiteite en orde in die klaskamer. Nie so maklik as wat dit klink nie!

Ons moet ook besef dat "mindfulness" nie noodwendig iets is wat tuis versterk word nie. Om vanaf die rusbank voor die televisie kanale te wissel is eenvoudig vir te veel mense 'n daaglikse aktiwiteit. Ouers wat tuiskom na 'n lang vermoeiende dag by die werk wil gewoonlik net "afskakel".

"Mindfulness" is soveel meer as net 'n eienskap wat ons skooldag beter maak. Dis 'n noodsaaklike kwaliteit vir sukses op akdemiese sowel as sosiale gebied - dit gee betekenis aan ons as mense.







Wednesday, 9 March 2016

Selfgerigte Afstand Onderrig

My bodily hexus is besig om te kantel soos wat ek tans worstel "to decodify the code". My "beingness" is ook nie meer wat dit moet wees nie. Elke keer as ek hoor van "embeddedness" dan dink ek aan my sagte, warm bed wat my bly ontwyk. Ek is tans 'n goeie kandidaat vir 'n meestersgraad in Geestes(versteurings)wetenskappe. Ek het nie meer 'n sosiale lewe nie, so ek vermoed "social justice" geskied ook nie meer nie. Behalwe vir Google, het ek darem twee nuwe vriende bygekry - Bourdieu en Bernstein. Ek is seker ons gaan nog 'n lang pad stap.

Soos die deursnee NOS student, is my reserwes op die stadium redelik laag. Klasbywoning (of eerder die gebrek daaraan) van groot groep studente getuig daarvan. Des te meer het die onderwerp van "Tech-mediated self-directed distance learning" my geinteresseer. Dink net, ek kan by die huis bly en werk wanneer dit my pas!

Hoe meer ek egter daarooor gedink het die afgelope week, hoe minder aanloklik het dit geklink. Ek wil graag deel wees van hierdie "deeply social act" wat hulle leer noem. Ons weet almal dat dit nie die kennis is wat ons op skool vergader het wat ons na baie jare bybly nie, maar dit wat rondom dit gebeur het. Ons onthou die sorgsame onderwyser, die hanswors in die klas, die netbaltoer en ook minder goeie ervarings. Ons onthou dit nie omdat dit noodwendig besonder lekker of besonder slegte ervarings was nie, maar omdat ons elke keer iets daaruit geleer het.

Dit is inderdaad so dat die tradisionele rolle van onderwyser en leerling ons in 'n mate beperk, maar om verder afstand te bring tussen onderwyser en leerling in die geval van selfgerigte onderrig gaan nie die probleem oplos nie. Dit is net so waar dat die aard van die vakinhoud dikwels verantwoordelik is vir die hierdie tradisionele rolle. Die onderwyser word te dikwels gesien (deur  homself en die leerder) as die een wat bloot inligting oordra aan die leerder. Daar moet eerder gekyk word om die inhoud van vakke so aan te pas sodat dit interaksie tussen leerder en onderwyser bevorder.

As gevolg van die komplekse ontwikkelingsfase waarin adolessente hulle bevind, is daar baie min van hulle wie regtig weet wat hulle belangstellingsveld is - tot so 'n mate dat hulle 'n loopbaan daarvan wil maak. Die gevaar van selfgerigte afstand onderrig is dat leerders net fokus op die veld wat hom of haar op daardie stadium interesseer, en kennis van en blootstelling aan ander vakrigtings gaan verlore.
Dit kan ook meebring dat die leerder se leer afhang van sy toegang tot tegnologiese middele en sy vaardigheid in die gebruik daarvan.

Afstand onderrig skep natuurlik wonderlike moontlikhede vir afgelee gebiede, leerders met spesiale behoeftes en gesinne wat baie reis. Op hierdie gebied kan daar in ons land nog baie gedoen word en staan digitale pedagogie nog in sy kinderskoene en hoop ek dat dit in die nabye toekoms baie meer aandag sal kry. Dit beteken egter soveel meer as om 'n klomp tablette by 'n plattelandse skool af te lewer. Die konsep van die leerder-onderwyser en onderwyser-leerder kan hier baie goed benut word.

Solank as wat ons die taal van die leerder praat en nie so "embedded" raak in ons eie "pedagogies" dat ons struikel oor "perniciously encroaching boondoggles" nie.














Tuesday, 1 March 2016

Kinderspeletjies

Kinderspeletjies

Die moontlikhede is net eindeloos. Dit was my gedagte terwyl ek die skrywes van Davis en Provenzano gelees het. Vindingryke onderwysers wat alle moontlike hulpmiddele aanwend om die leerervaring te bevorder - in hierdie geval sosiale media. 

Soos tereg verwys word in die skrywes het sosiale media al groot manne laat val (en opstaan) en word dit in dieselfde asem genoem as daar bespiegel word oor Wêreldoorloë en terrorisme. Dit gee nuwe dimensie aan maatskappye se manier van besigheid doen. Vir Jan Alleman is dit deel van sy sosiale lewe. Die hele phenomeen van sosiale media is die onderwerp van baie navorsing en word gereeld gedebatteer op verskeie vlakke binne verskillende dissiplines. 

Tog, vir die gemiddelde tiener is dit doodeenvoudig iets wat deel is van sy lewe. Hy dink nie eers te veel daaroor nie - hy gebruik dit bloot op 'n daaglikse (uurlikse?) basis. Dit sou dus onwys wees om dit te verban uit die klaskamer, en eerder sin maak om te leer hoe om dit reg aan te wend.

Dit skep 'n uitstekende geleentheid vir leerders om dit wat in hulle gedagtes is, om te skakel in woorde en dit so met ander te deel. Dit leer hulle om gedagtes te verwoord ('n noodsaaklike vaardigheid vir enige beroep en goeie menseverhoudings) en dit skep 'n platvorm vir die leerder wat dalk nie so maklik in die klas sal opstaan en praat nie.

 Dit gebeur dikwels met probleemoplossing in wiskunde dat jou brein net "vashaak" - dikwels weens onderliggende angstigheid of iets wat dalk net op daardie oomblik jou konsentrasie belemmer. Sosiale media gee dus vir almal die geleentheid om op hul eie tyd die probleem te oordink en terugvoer te gee - lank nadat die klas verdaag het. Dit gee leerders ook die geleentheid om vrae te vra terwyl hulle besig is met huiswerk en sodoende tyd meer produktief te gebruik. 

Dit het ook die voordeel dat dit leerders meer oplettend kan maak rakende hul omgewing. Leerders sal bewustelik of onbewustelik op soek wees na iets wat in verband gebring kan word met die dag se les om dit sodoende op sosiale media te deel. Dit lei feitlik altyd tot positiewe terugvoer - en almal hou van 'n "Like"!

Dit bring my ook by die volgende punt: die internet en selfs sosiale media kan so maklik 'n gevoel skep van annonimiteit -om kontak te hê met mense wat jy nie regtig ken nie. Deur sosiale media in klasverband te gebruik, skep jy 'n gevoel van "behoort aan" (belonging) en die terugvoer wat ontvang word, dien as verdere aansporing. Al is dit net om te weet iemand anders sukkel ook met die somme!

Dit is duidelik dat beide Davis en Provenzano baie positief is oor die gebruik van sosiale media in die klaskamer. Min word egter gesê oor die moontlike nadele, maar ek dink nie dis omdat hulle onbewus is daarvan nie. Die nadele is daar wel, maar dit is dalk 'n gesprek vir 'n ander dag. Die situasie sal ook effens verskil binne die Suid-Afrikaanse konteks met sy eiesoortige uitdagings, maar dis net meer rede vir ons as toekomstige onderwysers om bewus te wees van al die moontlikhede.

Ek deel die skrywers se gevoel dat ons deur sosiale media die klaskamer se mure afbreek en so die leerproses na buite neem. Ek sien dit ook as 'n ideale geleentheid om 'n paar waardevolle lesse te leer: soos om te dink voor jy praat (veral as dit op skrif is), om mekaar te respekteer en om verantwoordelik om te gaan met sosiale media en dalk - net dalk - red ons die wêreld van nog 'n oorlog. 





Wednesday, 24 February 2016

Blommeland


Liewe Heksie en die Rekenaar is 'n storie van die beminde Heksie se kennismaking met 'n rekenaar soos vertel deur Verna Vels. Daar is al die karakters van 'n goeie storie: Slimkop (wat alles weet van rekenaars), Liewe Heksie (die slagoffer wat niks weet van rekenaars nie) en Vickus Virus (die boef wat alles beduiwel).

Die storie het my baie laat dink aan my eie ervaring as toekomstige onderwyser en hoe ek myself (en ander) in een van die kategorie plaas - en watter beperkinge noodwendig daarmee saamgaan. Die blote idee dat digitale pedagogie hoogs tegnologies ontwikkelde middele is, is reeds die eerste wanopvatting. Saam met dit kom die weerstand wat dikwels by onderwysers teenwoordig is wat reeds jare lank op 'n bepaalde manier klasgee - kom ons noem dit die "swartbord-manier". Hulle voel dikwels bedreig deur nuwe ontwikkelings en wil - soos Liewe Heksie - enige instrument wat onbekend is met die spreekwoordelike besem bykom.

In teenstelling daarmee kry ons dikwels die Slimkoppe van die nuwe generasie onderwysers wat dink die wereld gaan verander word deur net genoeg You Tube videos te wys. Die boewe het ons ook altyd met ons, dikwels in die vorm van Eskom.

In beide gevalle word die hele metode en uiteindelike doel van onderwys misverstaan. Pedagogie is 'n pad wat die onderwyser saam met die leerder stap. En die pad is nie duidelik uitgele nie, maar opvoeders moet gedurig op die uitkyk wees vir merkers langs die pad. Hulpmiddels wat leerders en onderwysers kan help. Soms leer die onderwyser by die leerling vanuit sy ervaringsveld (wat dalk meer You Tube videos insluit) soms leer die leerder by die onderwyser vanuit sy ervarings (Liewe Hekse storieboeke!) en baie dikwels leer leerders by mekaar. Ons moenie bang wees om by mekaar te leer nie en ons moenie bedreig voel deur ander se kennis nie. As kennis al was wat saak gemaak het, sou ons leerders voor 'n rekenaar kon laat sit en voortgaan met onderrig aanlyn (online teaching).

Dis egter belangrik om die verskil te sien tussen kennis versamel en 'n vak bemeester. Pedagogie gaan in wese daaroor om iemand se hand te neem en hom/haar op 'n pad te neem sodat hy/sy veilig op 'n ander plek kan uitkom. Vir die leerder moet daardie plek 'n gevoel van bemagtiging wees. Die proses herhaal elke dag, week, jaar. Dit hou nooit op nie. Leerders moet voel dat hulle voortdurend nuwe ontdekkings maak en nie net nuwe kennis aanleer nie.

In 'n omgewing waar inligting vryelik beskikbaar is, moet mense ook geleer word om te onderskei tussen toegang tot inligting en die gebruik van inligting. Pedagogie kan gesien word as die lig wat geskyn word om sekere kennis in 'n spesifieke vakgebied uit te lig en dit van toepassing te maak op 'n gegewe situasie. Alle moontlike hulpmiddels moet dan ingespan word om die ervaring te versterk. In kort: pedagogie moet die wil om meer te leer bevorder.

Dan sal die son vir ons almal skyn in Blommeland en elders, en sal die storie'n gelukkige einde he.


Wednesday, 17 February 2016

Windows of Opportunity

Window of Opportunity


Toe die eerste rekenaars beskikbaar was aan die publiek, is gereken dat dit net groot maatskappye is wat dit sal aanskaf en gebruik.

Toe ek op hoerskool was, het net die sekretaresse 'n rekenaar gehad - die tipe met die swart skerm en wit letters.

Toe ek (die eerste keer) op universiteit was, het ons nie selfone geken nie en ek het my eerste e-pos adres gehad toe ek by my tweede werk begin het.

Back then, Apple was just another fruit, my best friend's name was Mari (not Google) and we lived in a world without Windows (no pun intended).

The point I am making is that technology develops really fast (I am not that old). Your children will probably laugh an roll their eyes at what and how we did things back in 2016.

The question is: Did I have an inferior education because technology was limited to an overhead projector and information was to be found only in an encyclopedia. Will your children have a better education because they will have access to technology we can't even imagine today?

Volgens Fyfe se artikel behels digitale pedagogie die gebruik van hulpmiddels - met die klem op hulp. Enigiets wat die studente se aandag hou, kreatiwiteit bevorder en die algehele leerervaring versterk. Dit gaan oor die gebruik van die beste moontlike hulpmiddels. Onderwysers moet dus heeltyd bewus wees van tegnologie wat beskikbaar is, hoe om dit te gebruik en dit kombineer met nie-elektroniese hulpmiddels.

Onderwysers wat gekant is om nuwe tegnologie te gebruik, ontneem leerders van kennis en blootstelling wat aan hom of haar 'n agterstand kan gee in vergelyking met ander leerders. Onderwysers wat weer net van die nuutste tegnologie gebruik maak, kan leerders visueel oorstimuleer en selfs hul aandag verloor weens gebrek aan persoonlike interaksie. Ons almal weet hoe vervelig 'n Power Point aanbieding kan raak. Dit is dikwels nodig om die (papier) kaart van 'n land te kombineer met 'n virtuele reis via die internet.

Therefor, it doesn't matter when you were -or will be- at school, but how the tools available at that time were used. In all this, again, the teacher plays the most importent role. And that, will not change.

Let we be the teachers that open the Wndows of oppotunity to the children and show them new horizons.