Wednesday, 9 March 2016

Selfgerigte Afstand Onderrig

My bodily hexus is besig om te kantel soos wat ek tans worstel "to decodify the code". My "beingness" is ook nie meer wat dit moet wees nie. Elke keer as ek hoor van "embeddedness" dan dink ek aan my sagte, warm bed wat my bly ontwyk. Ek is tans 'n goeie kandidaat vir 'n meestersgraad in Geestes(versteurings)wetenskappe. Ek het nie meer 'n sosiale lewe nie, so ek vermoed "social justice" geskied ook nie meer nie. Behalwe vir Google, het ek darem twee nuwe vriende bygekry - Bourdieu en Bernstein. Ek is seker ons gaan nog 'n lang pad stap.

Soos die deursnee NOS student, is my reserwes op die stadium redelik laag. Klasbywoning (of eerder die gebrek daaraan) van groot groep studente getuig daarvan. Des te meer het die onderwerp van "Tech-mediated self-directed distance learning" my geinteresseer. Dink net, ek kan by die huis bly en werk wanneer dit my pas!

Hoe meer ek egter daarooor gedink het die afgelope week, hoe minder aanloklik het dit geklink. Ek wil graag deel wees van hierdie "deeply social act" wat hulle leer noem. Ons weet almal dat dit nie die kennis is wat ons op skool vergader het wat ons na baie jare bybly nie, maar dit wat rondom dit gebeur het. Ons onthou die sorgsame onderwyser, die hanswors in die klas, die netbaltoer en ook minder goeie ervarings. Ons onthou dit nie omdat dit noodwendig besonder lekker of besonder slegte ervarings was nie, maar omdat ons elke keer iets daaruit geleer het.

Dit is inderdaad so dat die tradisionele rolle van onderwyser en leerling ons in 'n mate beperk, maar om verder afstand te bring tussen onderwyser en leerling in die geval van selfgerigte onderrig gaan nie die probleem oplos nie. Dit is net so waar dat die aard van die vakinhoud dikwels verantwoordelik is vir die hierdie tradisionele rolle. Die onderwyser word te dikwels gesien (deur  homself en die leerder) as die een wat bloot inligting oordra aan die leerder. Daar moet eerder gekyk word om die inhoud van vakke so aan te pas sodat dit interaksie tussen leerder en onderwyser bevorder.

As gevolg van die komplekse ontwikkelingsfase waarin adolessente hulle bevind, is daar baie min van hulle wie regtig weet wat hulle belangstellingsveld is - tot so 'n mate dat hulle 'n loopbaan daarvan wil maak. Die gevaar van selfgerigte afstand onderrig is dat leerders net fokus op die veld wat hom of haar op daardie stadium interesseer, en kennis van en blootstelling aan ander vakrigtings gaan verlore.
Dit kan ook meebring dat die leerder se leer afhang van sy toegang tot tegnologiese middele en sy vaardigheid in die gebruik daarvan.

Afstand onderrig skep natuurlik wonderlike moontlikhede vir afgelee gebiede, leerders met spesiale behoeftes en gesinne wat baie reis. Op hierdie gebied kan daar in ons land nog baie gedoen word en staan digitale pedagogie nog in sy kinderskoene en hoop ek dat dit in die nabye toekoms baie meer aandag sal kry. Dit beteken egter soveel meer as om 'n klomp tablette by 'n plattelandse skool af te lewer. Die konsep van die leerder-onderwyser en onderwyser-leerder kan hier baie goed benut word.

Solank as wat ons die taal van die leerder praat en nie so "embedded" raak in ons eie "pedagogies" dat ons struikel oor "perniciously encroaching boondoggles" nie.














No comments:

Post a Comment