"Where ever you are, be there". Dit is die woorde waarmee een van my Wiskunde dosente destyds haar klas begin het (hoofsaaklik om 'n klomp oormoeg eerstejaars se gedagtes weg te kry van jool en te bepaal by Wiskunde). Dit was inderdaad van die beste raad wat ek ooit gekry het.
Die vraag is so oud soos die mensdom self: hoekom is ons hier? Meer spesifiek, hoekom is ons in die NOS 2016 klas? Na twee maande se klasse is die antwoord vir my eenvoudig: dit gaan nie oor my nie, maar oor die leerder. Die Wiskunde wat ek so graag vir hulle wil leer, tesame met my persoonlike doelwitte, is skielik op die agtergrond. Dit beteken ongelukkig nie dat ek nou maar kan terugsit en die water oor die akker kan laat loop nie. Inteendeel,
My taak as onderwyser is terselfdertyd eenvoudig en geweldig kompleks. Ek moet 'n geleenteid skep vir leer. Eenvoudig? Ja. Maklik? Beslis nie.
Dis baie maklik om die afgebakende teorie van meetkunde en trigonometrie te leer, maar veel moeiliker om waardes en norme oor te dra. Die enigste manier hoe kinders waardes en norme leer, is deur 'n voorbeeld te volg. Skielik is die vergrootglas op my. Ek kan nie waardes leer wat ek nie self uitleef nie - binne en buite die klaskamer. Ek moet myself gedurig afvra of ek kalm, geduldig en georganiseerd voorkom en met liefde, begrip en selfbeheersing optree. Sien die leerders my as hardwerkend en doelgerig en terselfdertyd toeganklik en buigsaam? Al die eienskappe wat ek so graag as deel van my klaskamer kultuur wil sien, moet die leerders eerstehands ervaar. Leerders moet weet dat die werk wat jy insit voor 'n toets of eksamen belangriker is as die punt wat jy behaal na die tyd. Leerders moet weet dit is in orde om soms te erken "Ek weet nie". Hulle moet veilig voel as daar verandering plaasvind en weet dat dit 'n keuse is om iets te doen waarvoor jy nie noodwendig lus is nie. Dis ook die nodig dat leerders die waarde besef van dit wat hulle leer - basiese vaardighede soos lees, skryf en algoritme, maar ook van die sosiale en natuurwetenskappe.
Hierdie kultuur moet nie net tussen leerder en onderwyser bestaan nie, maar ook onderling tussen leerders. Dit moet tyd gegun word om te ontwikkel sodat elkeen self die positiewe uitwerking daarvan kan beleef. Alhoewel die hele proses nie geforseer kan word nie, moet die onderwyser tog doelbewus sekere aksies neem, soos om verjaarsdae te onthou, vordering te prys en bedag te wees op leerders se emosionele toestand. Klasaktiwiteite moet so gekies word dat dit nie onnodige ontwrigting veroorsaak nie. 'n Balans moet gehandhaaf word tussen spontane optrede, interessante aktiwiteite en orde in die klaskamer. Nie so maklik as wat dit klink nie!
Ons moet ook besef dat "mindfulness" nie noodwendig iets is wat tuis versterk word nie. Om vanaf die rusbank voor die televisie kanale te wissel is eenvoudig vir te veel mense 'n daaglikse aktiwiteit. Ouers wat tuiskom na 'n lang vermoeiende dag by die werk wil gewoonlik net "afskakel".
"Mindfulness" is soveel meer as net 'n eienskap wat ons skooldag beter maak. Dis 'n noodsaaklike kwaliteit vir sukses op akdemiese sowel as sosiale gebied - dit gee betekenis aan ons as mense.
No comments:
Post a Comment