Tuesday, 1 March 2016

Kinderspeletjies

Kinderspeletjies

Die moontlikhede is net eindeloos. Dit was my gedagte terwyl ek die skrywes van Davis en Provenzano gelees het. Vindingryke onderwysers wat alle moontlike hulpmiddele aanwend om die leerervaring te bevorder - in hierdie geval sosiale media. 

Soos tereg verwys word in die skrywes het sosiale media al groot manne laat val (en opstaan) en word dit in dieselfde asem genoem as daar bespiegel word oor Wêreldoorloë en terrorisme. Dit gee nuwe dimensie aan maatskappye se manier van besigheid doen. Vir Jan Alleman is dit deel van sy sosiale lewe. Die hele phenomeen van sosiale media is die onderwerp van baie navorsing en word gereeld gedebatteer op verskeie vlakke binne verskillende dissiplines. 

Tog, vir die gemiddelde tiener is dit doodeenvoudig iets wat deel is van sy lewe. Hy dink nie eers te veel daaroor nie - hy gebruik dit bloot op 'n daaglikse (uurlikse?) basis. Dit sou dus onwys wees om dit te verban uit die klaskamer, en eerder sin maak om te leer hoe om dit reg aan te wend.

Dit skep 'n uitstekende geleentheid vir leerders om dit wat in hulle gedagtes is, om te skakel in woorde en dit so met ander te deel. Dit leer hulle om gedagtes te verwoord ('n noodsaaklike vaardigheid vir enige beroep en goeie menseverhoudings) en dit skep 'n platvorm vir die leerder wat dalk nie so maklik in die klas sal opstaan en praat nie.

 Dit gebeur dikwels met probleemoplossing in wiskunde dat jou brein net "vashaak" - dikwels weens onderliggende angstigheid of iets wat dalk net op daardie oomblik jou konsentrasie belemmer. Sosiale media gee dus vir almal die geleentheid om op hul eie tyd die probleem te oordink en terugvoer te gee - lank nadat die klas verdaag het. Dit gee leerders ook die geleentheid om vrae te vra terwyl hulle besig is met huiswerk en sodoende tyd meer produktief te gebruik. 

Dit het ook die voordeel dat dit leerders meer oplettend kan maak rakende hul omgewing. Leerders sal bewustelik of onbewustelik op soek wees na iets wat in verband gebring kan word met die dag se les om dit sodoende op sosiale media te deel. Dit lei feitlik altyd tot positiewe terugvoer - en almal hou van 'n "Like"!

Dit bring my ook by die volgende punt: die internet en selfs sosiale media kan so maklik 'n gevoel skep van annonimiteit -om kontak te hê met mense wat jy nie regtig ken nie. Deur sosiale media in klasverband te gebruik, skep jy 'n gevoel van "behoort aan" (belonging) en die terugvoer wat ontvang word, dien as verdere aansporing. Al is dit net om te weet iemand anders sukkel ook met die somme!

Dit is duidelik dat beide Davis en Provenzano baie positief is oor die gebruik van sosiale media in die klaskamer. Min word egter gesê oor die moontlike nadele, maar ek dink nie dis omdat hulle onbewus is daarvan nie. Die nadele is daar wel, maar dit is dalk 'n gesprek vir 'n ander dag. Die situasie sal ook effens verskil binne die Suid-Afrikaanse konteks met sy eiesoortige uitdagings, maar dis net meer rede vir ons as toekomstige onderwysers om bewus te wees van al die moontlikhede.

Ek deel die skrywers se gevoel dat ons deur sosiale media die klaskamer se mure afbreek en so die leerproses na buite neem. Ek sien dit ook as 'n ideale geleentheid om 'n paar waardevolle lesse te leer: soos om te dink voor jy praat (veral as dit op skrif is), om mekaar te respekteer en om verantwoordelik om te gaan met sosiale media en dalk - net dalk - red ons die wêreld van nog 'n oorlog. 





No comments:

Post a Comment